Grondslagfasehoof – Jane Weber
Sonneveld Akademie se Grondslagfase bied aan die kind ‘n geborge, veilige en stimulerende omgewing waarin hy/sy as individu kan ontwikkel. Leerders word aangemoedig om binne hierdie leeromgewing selfvertroue te ontwikkel, kanse te waag en opinies te lug. Elke leerder word gesien as ‘n gawe en word met agting en respek behandel. Erkenning word gegee aan elke kind se uniekheid.
Dit is vir ons belangrik om klasse so klein as moontlik te hou sodat elke leerder se potensiaal ten volle bereik kan word. Intervensie(Hulpverlening) word gegee aan leerders wat probleme ondervind.
Wanneer leerders skool toe kom word ouers en onderwysers vennote. Die skool en ouerhuis moet mekaar aanvul in belang van ons leerders se opvoeding en onderwys. ‘n Omgee-atmosfeer word gehandhaaf.
Ons het ervare en goed gekwalifiseerde onderwyseresse wat ‘n passie vir die onderwys het en in elke opsig ‘n ekstra tree sal gee.
Ons poog om op hoogte te bly met die nuutste verwikkelinge in die onderwys en volg die KABV ( Kurrikulum-en Assesseringsbeleidsverklaring) soos voorgeskryf deur die Departement van Basiese Onderwys.
In die Grondslagfase streef ons daarna om elke kindjie holisties te ontwikkel en daarom gee ons nie net aandag aan die kognitiewe ontwikkeling nie, maar word daar ook gefokus op die sosiale en emosionele ontwikkeling van elke kindjie.
Die lesse word sodaning voorberei en aangebied dat daar ook aandag gegee word aan die 21ste eeu leervaardighede. Die vaardighede wat aandag geniet is: Kritiese denke, kreatiewe denke, groepvaardighede en kommunikasievaardighede.
Kom kuier gerus by ons en vergewis uself oor hoe Sonneveld Akademie die beste vir u kindjie kan bied.
As GrondslagFasehoof nooi ek u uit om my te skakel en meer uit te vind. Ek hoor graag van u.
Me. Jane Weber
Hoof: Grondslagfase