Geskiedenis van Sonneveld Akademie
Sonneveld Akademie het voorheen bekend gestaan as Volkskool Brakpan. Die naam is verander na Sonneveld Akademie op 1 Januarie 2016. Saam met die Beheerliggaam van Sonneveld Akademie, het die skool wegbeweeg van die BCVO se kurrikulum af en die KABV-Kurrikulum begin volg. Dit was ‘n groot aanpassing, maar met toegewyde bestuur, onderwysers, leerlinge en ouers het dit die pad na sukses makliker gemaak.
Die huidige skoolhoof Mnr. Steven Weber is op 1 Oktober 2015 aangestel as die eerste Sonneveld Akademie skoolhoof.
Sonneveld Akademie kan met dankbaarheid sê dat die leerlinggetalle vanaf Gr.RRR tot Gr.12 in Julie 2019 reeds oor die 200 leerlinge was.
Geskiedenis van Volkskool Brakpan
Op 6 Januarie 1993 het Volkskool Brakpan sy deure met 28 leerlinge, van Graad 1 tot 7, en 4 personeellede onderleiding van mnr. N.S. Els as eerste Hoof geopen. Die skool het aanvanklik gebruik gemaak van die geboue van die AP Kerk Brakpan. Daar was egter onmiddelik begin met die bou van lokale vir die skool op die kerk se terrein.
Op 31 Mei 1993 word die nuwe geboue, bestaande uit ‘n administratiewe blok, vyf klaskamers en kleedkamers, op ‘n plegtige wyse, met mnr. Andrew Gerber as gasspreker, in gebruik geneem. Die gedenkplaat is onthul deur mnr. Frank le Roux, LV van Brakpan. mnr. N.S. Els tree op 6 Augustus 1993 af as Hoof, maar bly aan as gewone onderwyser.